Ontmoet 'Plaasjapie' se stadjapies!

Ontmoet 'Plaasjapie' se stadjapies!

In die nuwe Afrikaanse werklikheidsreeks, 'Plaasjapie', moet 18 Suid-Afrikaners die stadslewe vir ’n primitiewe bestaan verruil met die hoop om R1-miljoen te wen. 

Roché 'Plaasjapie'
Verskaf

Plaasjapie begin op Donderdag 14 Julie om 20:00 op kykNET en die aanbieder van die program is Ewan Strydom, wat reeds ’n bekende gesig op die kassie as een van kykNET se anker- persoonlikhede as mede-aanbieder van die joernaalprogram, Bravo.

Die nuutgevonde plaasjapies, wat van Kleinmond tot Kriel kom, bestaan uit mans en vroue tussen die ouderdomme van 24 en 55.

In die reeks moet hulle kaalhand ’n verskeidenheid boerdery aktiwiteite en uitdagings, wat hul uithouvermoë of wilskrag toets, aanpak - sonder katoeters of moderne tegnologie.

Plaasjapie is ’n eg Suid-Afrikaanse werklikheidsreeks is op ’n oop stuk grond van vyf hektaar op ’n plaas buite Philadelphia in die Swartland aan die Weskus verfilm.

Só werk die reeks:
  • Twee spanne krap hul onderskeie potjies in afsonderlike kampe op die plaas.

  • ’n Leë skuur met bykans geen geriewe nie, dien as slaapplek en beskerm deelnemers teen die natuur se elemente: son, reën, koue, wind, goggas en baie stof. Deelnemers bad selfs in ’n skottel en moet daagliks hande-arbeid verrig terwyl hulle nuwe take baasraak. Soos die spanne krimp, word die werk ook net al hoe meer...

  • Om as die wenspan aangewys word, verskil van episode tot episode – met sommige van die uitdagings is dit die span wat eerste klaar is, terwyl daar in ander episodes beoordelaars is.

  • Iemand in die verloorspan kry per episode die trekpas en in die finale uitsending sal daar twee deelnemers wees wat sake vir die miljoen rand uitspook. Daar word ook in elke episode ’n nuwe spanleier aangewys.

  • Die leier van die wenspan sal ook per uitdaging ’n “luuksheid”, waarvan die hele span die voordeel kan kry, kies. Maar as die persoon wat die betrokke luuksheid, wat enige iets van ’n beter matras tot warm water kan wees, gewen het, in ’n latere episode uitgestem word, verloor die hele span die voordeel daarvan.

  • Twee deelnemers sal mekaar in die finale episode die stryd aansê vir die R1-miljoen prysgeld. 

Esteban (24) - Krugersdorp, Gauteng

Esteban is ’n sielkunde student en ’n Springbok MMA-vegter. Hy beskou homself as hardwerkend, lojaal, sosiaal en ’n spanspeler. Hy hou nie van mense wat heeltyd negatief is nie en sien uit daarna om homself op die proef te stel in 'Plaasjapie'. 

Esteban 'Plaasjapie'
Verskaf

Jurie (44) - Kriel, Mpumalanga

Jurie is ’n diep gelowige musikant wat musiek maak by sy kerk. Hy beskryf homself as ’n entoesiastiese en optimistiese planmaker wat nie daarvan hou om te verloor nie. As hy nie die gereedskap het om om iets te doen nie, bou hy sommer die gereedskap en hy sien baie daarna uit om die gejaag van die stad vir die natuur van die plaaslewe te verruil. 

Jurie 'Plaasjapie'
Verskaf

Roché (30) - Kaapstad, Wes-Kaap

Roché is ’n skoonheidsmodel wat vir 'Plaasjapie' ingeskryf het omdat hy eintlik nog altyd ’n boer wou wees. Hy hou daarvan om homself gereeld fisies tot die uiterste te beproef en is passievol daaroor om mense te help om hulle potensiaal te bereik. Hy is opgewonde daaroor om op groot skaal buite te werk en om mense se persepsies van skoonheidsmodelle te verander. 

Roché 'Plaasjapie'
Verskaf

Cecil (40) - Kaapstad, Wes-Kaap

Cecil is ’n mense-mens wat nie sommer met ander baklei nie, maar hy hou nie van beterweterige tipes nie. As oefeninstrukteur is hy ’n harde werker wat nie bang is om sy hande vuil te maak nie. Hy beskryf homself as passievol, gedrewe en kompeterend – hy het immers al drie keer die Comrades-maraton voltooi. Hy sien uit daarna om met plaasdiere te werk, maar nie noodwendig hulle afval nie. 

Cecil 'Plaasjapie'
Verskaf

Laurika (46)- Kleinmond, Wes-Kaap

Laurika, of Lollo soos haar virende haar noem, is ’n apteker wat mal is daaroor om te braai en beskou haar vermoë om te kan sê dat sy mal is oor haar lewe as die toppunt van sukses. Sy hou van ’n uitdaging en om uit haar gemaksone te wees en beskryf haarself as “lewens liewend” en vasberade. Sy het groot geword op ’n plaas in Ellisras so sy’s gereed om die Plaasjapie-lewe met albei hande aan te gryp. 

Laurika 'Plaasjapie'
Verskaf

Kayla (24) - Vereeniging, Gauteng

Kayla is ’n kranige liggaamsbouer wat al derde gekom het by die SA Kampioenskappe en ook deelgeneem het aan die Wêreldkampioenskappe in Ecuador. Sy hou van skubaduik en is passievol oor diere, wildslewe en Suid- Afrikaanse tradisies en kulture. Alhoewel sy nie enige ervaring van plaaslewe het nie, werk sy gereeld met perde en sien sy daarna uit om die stadsgeraas te ruil vir die geluid van sonbesies en die reuk van varsgesnyde gras en hooi. 

Kayla 'Plaasjapie'
Verskaf

Arthur (37) - Boksburg, Gauteng

Arthur is ’n kreatiewe direkteur en entrepreneur wat openhartig is oor sy geestesgesondheid en behoefte om minder-bevoorregte gemeenskappe aan die kunste bloot te stel. As trotse gay man beskou hy homself nie as ’n tipiese “oop gesig boerseun” nie maar erken dat hy al ’n paar harte gesteel het. Hy wil sien of 'Plaasjapie' sy persepsie van homself sal verander en alhoewel hy nie van muskiete of versengende hitte hou nie, is hy reg vir die plaaslewe. 

Arthur 'Plaasjapie'
Verskaf

Billy (43) - Pretoria, Gauteng

Billy staan gereed vir enige uitdaging en is lief vir avontuur, soos wat die feit dat hy die Guiness Wêreldrekordhouer vir Marmite eet is, kan getuig. Hy is ’n gelukkig getroude gesinsman met twee seuns en beskou sy familie as sy grootste sukses. Die grootste uitdaging wat hy al oorkom het, was om kanker te bestry en hy is dankbaar dat hy nie gaan lê het nie en sy kop omhoog gehou het. Hy hoop om daardie selfde deursettingsvermoë na die plaas toe te bring en sien uit na die stilte en natuurlewe. 

Billy 'Plaasjapie'
Verskaf
Gerda (56) - Brackenfell, Wes-Kaap

Vir Gerda is opgee eenvoudig nie ’n opsie nie. Sy beskou haarself as een van die dapperste mense wat sy ken en is bereid om enigiets te doen om haar kinders te beskerm en te versorg. Sy slaap graag onder die sterre en hou daarvan om vroeg op te staan en fisies hard te werk. Sy is in haar hart ’n natuurmens sien uit daarna om planne te maak saam met die ander deelnemers en uitdagings op die plaas die hoof te bied.

Gerda 'Plaasjapie'
Verskaf

Deon (29) - Saldanha, Wes-Kaap

Deon hou daarvan om homself te versorg en het nie ooghare vir mense wat hom oordeel op grond van hoe hy lyk en ruik nie. Hy beskou homself as baie braaf ten spyte van sy vrese en hou daarvan om probleme op te los en homself uit te daag. Hy sien uit daarna om die vryheid en natuurlewe op die plaas te geniet, maar sien beslis nie uit daarna om vroeg op te staan nie, en hy sien ook nie kans vir al die insekte nie. 

Deon 'Plaasjapie'
Verskaf

Marius (45) - Kimberley, Noord-Kaap

Marius is ’n soldaat in die SANDF maar is spyt dat hy nooit sy droom om ’n rugbyspeler te word, verwesenlik het nie. Hy het as kind grootgeword op sy oupa se plaas en het kosbare herinneringe van perde versorg saam met sy oupa. Hy wil graag eendag sy eie plaas hê en terugkeer na daardie lewe. 

Marius 'Plaasjapie'
Verskaf

Suzette H, (55) Kroonstad, Vrystaat

Suzette is ’n huisvrou en ma van vier en beskou haarself as ’n hardwerkende spanspeler en raakvatter. Sy sê graag haar sê en gee nie om as mense dink sy is te voorbarig nie. Sy sien baie uit na die uitdagings van die plaaslewe en is dankbaar sy het na die stemmetjie geluister wat vir haar gefluister het om in te skryf vir 'Plaasjapie'. 

Suzette H 'Plaasjapie'
Verskaf

Stefan (23) - Pretoria, Gauteng

Stefan beskou homself as spontaan, avontuurlustig en braaf en gryp graag ’n uitdaging aan. Hy is baie trots op sy graad in Internasionale Politieke Studies en om as 20-jarige gevra te word om ’n maandelikse rubriek vir ’n Afrikaanse koerant te skryf. Hy wou nog altyd aan ’n werklikheidsreeks deelneem en sien 'Plaasjapie' as die perfekte geleentheid om sy liefde vir die buitelug en natuur uit te leef. Die enigste ding waarna hy nie uitsien nie, is om vroeg op te staan elke dag omdat hy glad nie ’n oggendmens is nie. 

Stefan 'Plaasjapie'
Verskaf

Leo-Nene (30) - Centurion, Gauteng

Leo-Nene is ’n grimeerkunstenaar en huisvrou wat met niks minder as die beste tevrede is nie. Sy beskou haarself as goedhartig, vroulik, kreatief en vol hoop. Sy hou daarvan om nuwe dinge te probeer en die feit dat sy op skool geboelie is, het van haar ’n sterker mens gemaak. Sy sien uit na die harde werk op die plaas en om die vrugte van haar arbeid te kan aanskou. 

Leo-Nene 'Plaasjapie'
Verskaf

Dian (29) - Pretoria, Gauteng

Dian is ’n kunssinnige man met ’n oog vir detail. Sy stryd met die mediese kondisie, spondilites, het hom sterker gemaak en is hy trots op sy uithouvermoë en deursettingsvermoë. Hy wil graag aan sy broers, wat rugbyspelers en liggaamsbouers is, wys dat alhoewel ’n boer dalk ’n plan kan maak, maak ’n kunsman twee. Hy is uit-en-uit ’n stadsmens en sien glad nie uit na die stof, reuke en koue water van die plaaslewe nie – om van die goggas nie eens te praat nie. 

Dian 'Plaasjapie'
Verskaf

Suzette I (30) - Randburg, Gauteng

Suzette steur haar nie aan nonsens nie en beskou haarself as ambisieus, veerkragtig en ’n sterk leier. Sy lees mense goed en kan hulle maklik laat dink dat hulle die besluite maak. Sy het ingeskryf vir 'Plaasjapie' omdat sy lief is vir die natuurlewe en probleem-oplossing, en dink die slegste deel van die hele ervaring gaan wees om terug te gaan stad toe wanneer dit verby is. 

Suzette I 'Plaasjapie'
Verskaf

Bean (39) - Langebaan, Wes-Kaap

Bean is ’n musiekpromotor en avontuur-entrepreneur wat homself as ’n prettige planmaker en raakvatter beskryf. Hy hoop dat hy beroemd raak deur aan 'Plaasjapie' deel te neem, en om dan sy bekendheid te gebruik om liefdadigheidswerk te doen. Hy sien baie uit na die uitdagings op die plaas maar dink die vroeg-opstaan gaan hom glad nie pas nie. 

Bean 'Plaasjapie'
Verskaf

Elton (41) - Klerksdorp, Noordwes

Elton is ’n bouer en nutsman wat lief is vir kook en graag na sy gesin omsien. Hy was al ’n paar keer as rugbyspeler as man of the match aangewys en beskou homself as hardwerkend, vasberade en ’n planmaker. Hy sien uit daarna om meer te leer van die plaaslewe en dink 'Plaasjapie' gaan ’n uitstekende ervaring wees. 

Elton 'Plaasjapie'
Verskaf

Follow us on social media:

Meer Op Jacaranda FM


Foto: Verskaf

Show's Stories