Lekker kykgenot op die kassie in 2019

Lekker kykgenot op die kassie in 2019

Hier is ons lys van moet-kyk TV-programme waarna jy kan uitsien in 2019! 

rian kyknet
Rian van Heerden, Minki van der Westhuizen & Jacques Bessenger / Instagram.

‘n Nuwe jaar beteken splinternuwe programme op die kassie. Soos altyd is daar programme om van te kies en te keur.

LEES OOK: Francois van Coke gee Sonja Heroldt se ‘Ek verlang na jou’ nuwe lewe

Dís waarna jy in die nuwe jaar kan uitsien – van ou gunstelinge tot nuwe reekse:

Megaboere

Woensdae om 20:00 vanaf 9 Januarie 

Met Kabous Meiring as aanbieder 

kykNET DStv-kanaal 144 

Megaboere se nuwe aanbieder, Kabous Meiring beloof om onder die kykers se vel in te kruip terwyl sy die suksesvolste boerderye in Suidelike Afrika besoek.

Soos in die vorige reekse besoek sy ook ’n verskeidenheid boerderye in verskillende dele van die land. Die klem verskuif hierdie keer na boere se vermoë om verandering as uitdaging te aanvaar. Die boerderye wissel van groot semi-korporatiewe sakebedrywe, tot boere wat op tradisionele grond boer en nooit die titelakte van sy grond gaan besit nie – almal boere wat hulself op die een of ander manier van ander onderskei en op verskillende maniere kwalifiseer om die Megaboer-etiket te dra. 

Hotel

Maandae om 20:30 vanaf 7 Januarie

Met Schalk Bezuidenhout, Beer Adriaanse, Simoné Nortmann, Mila Guy en James Borthwick

kykNET DStv-kanaal 144 

Wonder bo wonder funksioneer die Fransen Hotel steeds na twee seisoene. Dinge het amper lelik skeefgeloop toe Ferdie met Thomas se ma trou. Hierdie nuwe pa en seun- asook mede-eienaarverhouding is iets waaraan hulle, asook die Hotel beswaarlik gewoond raak. Kykers kan uitsien na ‘n paar nuwe gesigte, sowel as ‘n paar bekende akteurs wat gasverskynings maak.

Skelmpie 

Woensdae om 20:30 vanaf 9 Januarie 

Met Rian van Heerden as aanbieder 

kykNET DStv-kanaal 144 

Jacaranda FM se Rian van Heerden, is terug in Januarie vir ’n tweede seisoen. Vogens Rian word die kollig in die tweede seisoen geplaas op paartjies wat in verhoudings is wat meeste mense vreemd vind, “van liefdesdriehoeke tot jare se ouderdomsverskille, van reuse lengteverskille tot huweliksmaats wat eksperimenteer in hul verhoudings.” 

In ons midde

Maandae om 20:00 vanaf 7 Januarie

VIA TV DStv-kanaal 147

Vanaf 7 Januarie is die stories van passiemoorde wat ’n leeftyd van smart besorg het onder die vergrootglas in In ons midde. Dié aangrypende doku-reeks werp lig op die misdade wat nie juis die voorblaaie gehaal het nie, maar wel gesinne en gemeenskappe diep geruk het. 

Geldhelde

Dinsdae om 20:30 vanaf 22 Januarie 

Met Rozanne McKenzie as aanbieder 

VIA TV DStv-kanaal 147

Entrepreneurskap en finansies word vanuit ’n vars oogpunt bekyk in Geldhelde, vanaf 22 Januarie. Die aanbieder is Jacaranda FM se Rozanne McKenzie, en sy ontmoet inspirerende planmakers, entrepreneurs en geldkenners wat hul suksesstories en raad deel. In samewerking met Momentum. 

Dwaalster

Dinsdae om 20:00 vanaf 8 Januarie

Met Tinarie van Wyk Loots, Jacques Bessenger, Albert Maritz, Tarryn Wyngaard, Jarrid Geduld, Joanie Combrink, André Odendaal, Erica Wessels, Terence Bridgett, Neels van Jaarsveld, June van Merch en David Isaacs

kykNET DStv-kanaal 144

Annabel Loots (Tinarie van Wyk Loots), ‘n ondersoekende joernalis, soek ontvlugting na ‘n traumatiese gebeurtenis waar sy gesien het hoe haar kollega vermoor word terwyl hy saam met haar ‘n storie dek oor xenofobiese aanvalle. Sy is ook op die punt om ‘n korrupte minister se betrokkenheid met die Russiese regering in skaliegasontginning te ontbloot, wat haar laat besef dat dit veiliger sal wees om laag te lê en terug te keer na haar tuisdorp tot die stof gaan lê. 

Die unieke drama meng liefde, humor en magiese realisme in ‘n spanningsverhaal soos nog nooit vantevore gesien op plaaslike televisie nie. 

Minki

Woensdae om 20:00 vanaf 22 Januarie 

Met Minki van der Westhuizen as aanbieder 

VIA TV DStv-kanaal 147

Suid-Afrika se liefling Minki van der Westhuizen begin ’n nuwe hoofstuk van haar lewe op 16 Januarie wanneer sy haar eie geselsprogram, Minki, op VIA aanbied. Sy nooi ’n verskeidenheid mense wat haar inspireer vir kuiers op haar rusbank – en verras hulle soms met nog ’n spesiale gas. 

Show's Stories