Frank Opperman speel ’n misdaadbaas in die nuwe aksiekomedie

Frank Opperman speel ’n misdaadbaas in die nuwe aksiekomedie

In die nuwe fliek, Ander Mens wat in Augustus in fliekteaters begin draai, sien ons 'n ander kant van geliefde akteurs Frank Opperman en Bennie Fourie.

Frank opperman ander mens
Frank Opperman / Instagram.

Een les wat die lewe graag vir ’n mens wil leer, is dat niks ooit so eenvoudig is as wat dit mag voorkom nie. ’n Feit wat bevestig word deur regisseur Quentin Krog (Ballade vir ’n EnkelingVir die Voëls) se splinternuwe rolprent, Ander Mens, wat net soos die hoofkarakter glad nie volgens ’n standaard-formule beoordeel kan word nie. 

Ander Mens vertel, met oorgenoeg aksie en donkerhumor om kykers op die punte van hulle stoele te hou, die spanningsvolle verhaal van ’n doodgewone en baie vervelige boekhouer, Daniël Niemand, wie se lewe onherroeplik verander nadat ’n reeks misverstande sy bestaan heeltemal omvergooi. Alhoewel die chaos tot groot tragedie lei, help dit hom ook om ’n belangrike persoonlike oorwinning te behaal.

Bennie Fourie, bekend vir sy rolle in Vuil Wasgoed, Mooirivier en die gewilde kykNET-reeks Hotel meen dat die fliek iets vars vir Suid-Afrikaanse gehore gaan wees.  

"Dit is iets waaraan Suid-Afrikaners nog nie baie blootgestel is nie. ’n Aksieprent, met droë ernstige omstandighede, vermeng met humor." 

Fourie noem verder dat dit ook nie aldag is wat kykers  die kans kry om vir Frank Opperman in die rol van ’n skelm te sien nie. "Dinge raak rof – maar dit is snaaks ook. Dis beslis ’n fliek wat almal moet sien," voeg Fourie by.

Die meeste van die aksiebelaaide gebeure speel af teen die prentjiemooi berglandskap van Du Toitskloof in die Wes-Kaap. Omdat die film ook grense verskuif in terme van styl en genre op plaaslike bodem, is daar gebruik gemaak van dieselfde tipe kameralens as wat daar vir die 70’s-treffer, The Godfather, gebruik is en wat heel gepas is vir dié moderne aksieriller.

Ander sterre soos Jana Cilliers, Lika Berning, Clyde Berning, Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg en meer is ook in die fliek te sien.

“Ons het van die begin af geweet watter akteur perfek vir elke rol sou werk, wat die proses makliker gemaak het,” verklap die regisseur. 

Die fliek sal by plaaslik begin draai op 23 Augustus 2019.

Show's Stories