Springbok Eben Etzebeth eersdaags in 'Binnelanders' te sien

Springbok Eben Etzebeth eersdaags in 'Binnelanders' te sien

'Binnelanders'-kykers en rugbyliefhebbers oor die land heen kan daarna uitsien om die gewilde Springbok-rugbyspeler, Eben Etzebeth, in die sepie te sien! 

Eben Etzebeth Binnelanders
Verskaf/ kykNET

'Binnelanders'-kykers en rugbyliefhebbers oor die land heen kan daarna uitsien om die gewilde Springbok-rugbyspeler, Eben Etzebeth in die reeks te sien Donderdag en Vrydag, 10 en 11 Augustus.

Eben, wat in September saam met die res van die Bokke aan die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk deelneem, maak sy verskyning in 'Binnelanders' wanneer hy by Binneland Kliniek opgeneem word ná 'n skouerbesering. Dr. Tertius Jonker (Reynhardt Hugo) doen alles in sy vermoë om seker te maak Eben se besering is nie ernstig nie en dat hy gereed is vir Frankryk. Naomi (Je-ani Swiegelaar) is in haar noppies (en senuweeagtig!) om hom te verpleeg – 'n taak wat Bonnie (Antoinette Modise) baie eerder wou verrig.

Elsje Stark, 'n 'Binnelanders'-vervaardiger, sê oor Eben se verskyning: "Dit was ’n vreugde om saam met hom te werk. Nie net is hy ’n voorspeler van formaat nie, hy is tuis voor die kameras ook! Hy was goed voorbereid vir sy 'rol', hoewel sy aktrise-wederhelf Anlia waarskynlik baie daarmee te doene gehad het… Ons sal Eben enige tyd terug-verwelkom."

 kykNET-kykers sal ná afloop van Vrydagaand, 11 Augustus, se uitsending die geleentheid kry om aan 'n lekker kompetisie deel te neem. Die prys is 'n rugbybal geteken deur Eben Etzebeth – die einste bal wat hy tydens daardie episode vir een van Binneland Kliniek se personeel teken. Meer inligting oor die kompetisie sal eersdaags op 'Binnelanders' se sosiale media platforms, asook op kykNET se webblad beskikbaar wees. 

Maak seker jy is ingeskakel om dié opwindende episodes te sien. Donderdag en Vrydag, 10 en 11 Augustus 2023 om 19:30 op kykNET, kanaal 144.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories