Carl Niehaus: 'Baie mense het geld gevat tot op die hoogste vlak in die ANC'

Carl Niehaus: 'Baie mense het geld gevat tot op die hoogste vlak in die ANC'

Die uitgesproke politikus en aktivis Carl Niehaus het Dinsdagaand prontuit gesels oor wat in sy velede gebeur het en ook oor wat hy vir die toekoms beplan. 

Carl Niehaus
Verskaf/ kyk

Die uitgesproke politikus en aktivis Carl Niehaus was Dinsdagaand die gas op 'Laataand by Rian' – en selfs Rian van Heerden was by tye geskok. Carl Niehaus het prontuit gesels oor wat in sy verlede gebeur het en ook oor wat hy vir die toekoms beplan. 

LEES: Opsoek na liefde? Skryf in vir 'Boer Soek 'n Vrou'

Carl Niehaus is al 43 jaar in die politiek en het al verskeie hoë posisies beklee. Hy was destyds die woordvoerder van president Nelson Mandela en in ’n stadium ook die nasionale woordvoeder van die ANC, maar nou is hy die leier van sy eie party, die African Radical Economic Transformation Alliance (Areta). 

Talle publikasies het al berig oor Carl wat glo bedrog gepleeg het terwyl hy by die ANC was, maar hy hou voet by stuk dat dit alles leuens is: "Ek het finansiële probleme gehad. Ek het skuld gehad, en ek het foute gemaak, want op ’n stadium in my lewe het ek bo my inkomste geleef. In die politiek word jy nie daarvoor vergewe nie."

LEES: EKSKLUSIEF: Derick Hougaard praat oor noue ontkoming met die dood

Rian van Heerden wou by Carl hoor waaroor sy outobiografie gaan, en hy vra toe vir Carl wat weet hy wat niemand van die ANC weet nie. Carl het glad nie geskroom om te antwoord nie: "Ek weet baie. Ek weet van mense wat spioene was vir die ou apartheidsregime, maar ook vir die Westerse intelligensiedienste. Ek weet van mense wat ander mense uitverkoop het. Daar is baie mense wat geld gevat het tot op die hoogste vlak." 

Toe dit by oud-president Jacob Zuma kom, het Carl vir Rian sy geskiedenis met Zuma vertel en Rian se mond het oopgehang. Carl was vir byna nege jaar in die tronk weens hoogverraad teen Suid-Afrika se apartheid-regering. Toe die ANC ontban word, wou hulle almal uit die tronk vrylaat behalwe vir Carl. "Zuma het my elke tweede week kom sien, en hy kom toe een keer terug en sê hy het vir Oliver Tambo en die ANC se nasionale uitvoerende komitee oorreed en vir hulle ’n ultimatum gegee: Of hulle laat my vry of hulle stop die onderhandelinge – en binne ’n week kry hy my uit," vertel Carl.

LEES: 'Ek is bang' - SA musikant deel fase vier longkanker diagnose

Rian en Carl het 'n lekker debat gehad oor of radikale ekonomiese transformasie in Suid-Afrika gaan werk. Rian se mening is dat Suid-Afrika nie die kundigheid daarvoor het nie, maar Carl hou voet by stuk dat dit die beste opsie vorentoe is.

Die volledige episode is op DStv Catch Up beskikbaar, en jy kan dit ook op DStv Stream kyk.

Rian se volgende gas is die omstrede, getatoeëerde musikant uit die Moot in Pretoria, Angie Oeh. Rian en Angie praat oor haar stryd met kanker en oor hoe haar musiek die konserwatiewes ongemaklik maak.

Laataand by Rian is elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

More From Jacaranda FM


Show's Stories