'Boer Soek 'n Vrou' gaan voort met produksie

'Boer Soek 'n Vrou' gaan voort met produksie

Die aftel na die dertiende reeks van 'Boer Soek ’n Vrou' het begin! Aanhangers van dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks gaan op Sondag 19 Julie vanjaar se oes van boere ontmoet, wanneer die loodsepisode om 20:00 uitgesaai word. 

Marciel Hopkins
Verskaf/ kykNET

Na afloop van die episode sal inskrywings vir pasmaats oopmaak.

Die nuwe aanbieder van 'Boer Soek ’n Vrou', Marciel Hopkins, sê sy is opgewonde om uiteindelik die tien hubare boere aan die publiek voor te stel.

LEES OOK: '7de Laan' ceases filming until further notice due to COVID-19

“Ek sien al so lank uit na die verfilming van die nuwe seisoen en ek is só dankbaar die tyd uiteindelik aangebreek het om daarmee te kan begin,” sê Marciel, wat ook ’n lewensafrigter en model is.

“In 'n onsekere tyd soos nou, is 'Boer Soek 'n Vrou' 'n wonderlike geleentheid vir enkellopendes om iemand nuut in persoon te ontmoet wat hulle nie onder inperkingsreëls sou kon doen nie.” 

As gevolg van Covid-19 is produksie op 'Boer Soek ’n Vrou' vertraag en moes die vervaardigers in samewerking met kykNET met vindigryke idees vir die produksieproses na vore kom.

“Die veiligheid van deelnemers en die produksiespan geniet voorkeur en talle streng maatreëls is in plek gestel om dit te verseker,” sê Wilmer Müller, woordvoerder van die reeks.

Anders as vorige jare, gaan voornemende pasmaats ook nie handafgelewerde briewe of pakkies vir boere kan stuur nie en sal die vervaardigers net digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, aanvaar.

“Ons is seker dat diegene wat ’n oog op ’n boer het, steeds kreatief gaan raak met hul inskrywings.”

In die verlede het die reeks van Oktober tot Januarie uitgesaai, maar die dertiende reeks sal nou vroeg in 2021 op kykNET afskop, wanneer kykers die boere se liefdesreis van Donderdag 21 Januarie kan begin volg. Dit sal steeds uit 13 episodes bestaan en ouder gewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang. 

Show's Stories