'Arendsvlei' nou op die kassie vir vier dae ’n week!

'Arendsvlei' nou op die kassie vir vier dae ’n week!

Die gewilde kykNET-telenovelle, 'Arendsvlei' is binnekort vier dae 'n week op die kassie!

Arendsvlei-troue
Verskaf

Vir twee jaar lank is die Cupido’s en Abrahams-gesin nou al deel van kykers se lewens. Almal het die pad saam met Beatrice (Jolene Martin) gestap toe sy haar man verloor én hulle was daar toe Lee-Roy Foster (Roberto Kyle) sy kankerreis oorwin.

kykNET se eerste Afrikaanse telenovelle, 'Arendsvlei', moes aanvanklik net vir een seisoen op die kassie wees, maar die karakters het so diep in kykers se harte gekruip dat kykNET verlede jaar besluit het om die telenovelle vir ’n tweede seisoen te verleng. Selfs Wendy Newman (Rehane Abrahams) het ’n sagte plekkie in almal se harte gekry.

LEES: Kyk die amptelike lokprent van 'Meisies Wat Fluit' hier

En nou kan kykNET die opwindende nuus deel dat 'Arendsvlei' vir vier dae ’n week op die kassie sal wees. Tydens die DStv Media showcase is die nuus in die mediaverklaring bevestig. Die bykomende episode sal vanaf 1 Oktober 2020 uitgesaai word.

Soos oudergewoonte is Wendy Newman (Rehane Abrahams) steeds so geniepsig en ons kan maar net hoop dat arme Beatrice Abrahams (Jolene Martin) eindelik weer liefde sal vind. 

Ná ’n groot tragedie moet Wendy van die radar verdwyn en met bose magte besigheid doen om weer op haar voete te kan staan. En sal Debra (Kay Smith) haar ma kan vergewe as sy uitvind sy het haar weereens verraai? 

LEES: Scheepers-familie van 'Kwarantyn' dans op gewilde 'Jerusalema'-liedjie

Kykers kan ook natuurlik uitsien na ’n paar nuwe gesigte in die Vlei. Die gesogte aktrise Ilse Klink daag op in 'Arendsvlei' om die rol van Bompie Galant (Jarrid Galant) se ma te speel. En nie net sorg sy vir hope drama nie, sy is ook die oorsaak van baie mense se ongeluk.

Kaptein Krige (Brendan Daniels) maak ’n draai in Arendsvlei vanaf Clanwilliam terwyl Natalie (Carmen Maarman) haar sjarmante persoonlikheid gebruik om te kry wat sy wil hê, ten koste van ’n paar mense se geluk.

Dis ’n nuwe jaar wat beteken dat ’n nuwe groep leerders by Hoërskool Arendsvlei aansluit. ’n Nuwe groep leerders met nuwe geleenthede en nuwe familiedramas wat Beatrice en haar span moet takel.

“Sedert die begin van seisoen twee het kykers al gevra vir ’n derde seisoen. Penguin Films en 'Arendsvlei' is opgewonde om nou vier episodes ’n week te kan uitsaai en aan te hou om ons kykers te verras. Dankie aan ons kykers vir julle ondersteuning en dankie aan die skrywers, talent en bemanning vir julle toewyding en passie,” sê Roberta Durrant, uitvoerende vervaardiger van die telenovelle.

LEES: 'Boer Soek 'n Vrou'-aanbieder Marciel Hopkins is verloof

Hoofskrywer van 'Arendsvlei', Theltom Masimila, sê hy voel bevoorreg om vir nog 'n jaar die storie van die mense van Arendsvlei te vertel en dieper in hul verhale te delf.

“Noudat ons kans het om vier dae per week op die kassie uit te saai kan die kykers hulle gereed maak om langer vasgevang te wees in die liefde en leed van die hoërskool, gemeenskap en gesinne wat ons leer ken het asook die nuwe gesigte wat sorg vir drama soos nooit tevore,” sê Theltom.

Ons kry so lekker ons begin sommer dans! Kyk hier ná ’n video van hoe jou gunsteling-akteurs dans en die nuus aankondig.

'Arendsvlei' se derde seisoen begin 28 September 2020 en die vierde episode sal op 1 Oktober 2020 op kykNET & kie, DStv kanaal 145, uitgesaai word.

Show's Stories